Tannie Allettha se storie

Herfsland

Die Here is hier aan die werk

Ek het Tannie Allettha hier gekry toe ek hier begin werk het. Sy was nog baie aktief en het beertjies en poppies gebrei vir verskillende welsynsorganisasies en het ons baie gehelp met die herstel van klere. Sy het altyd vertel hoe het die personeel vir haar die onmoontlikste klere gebring om vir hulle te maak pas. As sy nie kans gesien het nie, het hulle vir haar gesê net sy kan enige iets reg maak!

So het ons Tannie Allettha leer ken met haar twee dogters en haar gestremde seun, Edwin, wat by die Oos-Randse Beskermde Werkplek gewerk het. Hy het gereeld by sy ma kom kuier en haar gehelp met allerhande takies veral vandat sy in die rolstoel is.   Hy het ook elke jaar die matte wat hy geweef het saam met sy ma by Herfsland ingeskryf vir die Intergroepdag.  

Verlede jaar, toe Tannie Allettha 97 was, is Edwin op die ouderdom van 55 jaar in ‘n motorongeluk oorlede.   Tannie Allettha het toe die pad in herinnering geroep wat sy met Edwin geloop het en dit vir almal vertel.

Toe hy in 1960 gebore is, het die dokter vir haar gesê sy moet hom in die hospitaal los en vergeet sy het ‘n kind gehad. Toe sy weier, het die dokter gesê hy sal nooit kan loop, praat of sonder doeke kan funksioneer nie.  Sy het hom huis toe geneem en was baie verbitterd teenoor die Here.

Een Sondag het haar man gesê hy sal na Edwin kyk en haar gedwing om kerk toe te gaan. Sy het teen haar sin gegaan. Die dominee se boodskap was uit Jes. 41:10:  “Moenie bang wees nie, ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.”

Sy het uit die kerk geloop, van haar deel van die boerdery ontslae geraak en al haar aandag aan Edwin gegee met oefeninge en wat nog alles.   Edwin het sekere mylpale van gewone kinders bereik en is na ‘n gewone laerskool.   Hy kon normaal loop, homself aantrek, versorg en eet.   Hy het moeilik gepraat en kon nie lees of skryf  baasraak nie, alhoewel hy sy “eie skrif” ontwikkel het.   Hy kon later egter meer nie volhou nie en is na spesiale skole.

Hy het  opgegroei as ‘n netjiese, goedgemanierde man en was ‘n geliefde inwoner en werker van die Oosrandse Beskermde Werkplek waar hy sy plek volgestaan het en ‘n getroue lidmaat van NG kerk Bonaeropark was.

Met Edwin se begrafnis het Dr Hugo van der Linde weer uit Jes. 41:10 gelees en gesê die Here wat met Edwin se geboorte by tannie Allettha was is steeds by haar op 97.

Johannie Louw

Gebruikers

Soek

LiG Tydskrif

 

Lees in LiG se Desember-uitgawe

2017.12

Kerkbode

Lees in die Kerkbode van
17 November 2017

 2017.11.17