Dertig jaar getroue diens

Die Tuiste vir Bejaardes in Nigel wens me. Hannie Bosman geluk vir dertig jaar se getroue diens...  

Op 6 Mei 2016 het me Hannie Bosman, operasionele bestuurder van die Tuiste vir Bejaardes, Nigel, dertig jaar diens by dié Tuiste voltooi.  Hannie is as operasionele bestuurder verantwoordelik vir die gladde verloop van aktiwiteite in die kombuis, washuis en skoonmaak van die Tuiste.

Sy doen ook maandeliks die aankope van die kruideniersware en vleis vir die Tuiste.  Voorts hanteer sy die sakgeld en sakgeldregister van inwoners in die versorgingsoord benewens vele ander take wat daagliks op haar tafel beland. 

Hannie Tuiste vir Bejaardes Nigel

Hannie is daarvoor bekend dat sy die rieme dun en reguit kan sny en is dus iemand wat geen vermorsing verdra nie.  Sy is ook ʼn planmaker wat altyd met ʼn praktiese voorstel na vore kom om ʼn uitdaging te oorbrug.  Op so ʼn wyse het sy ʼn paar jaar gelede voorgestel dat ʼn blok woonstelle gebou word in die plek van motorhuise om sodoende die nood aan behuising vir selfversorgende bejaardes te probeer oplos.  Die woonstelblok huisves tans 15 inwoners en staan algemeen bekend as “Hanniehof”.

Oor die loop van dertig jaar het sy haar twee kinders en drie kleinkinders deur die skool ondersteun.  Twee van haar kleinkinders het sy ook deur Universiteit gehelp in hierdie periode.  Sy help tans ook daagliks met die versorging van haar moeder, wat ʼn inwoner in die Tuiste is.  Tydens haar dienstydperk het sy onder drie bestuurders gedien.

Op 9 Mei het die personeel vir haar ʼn funksie gereël om dié geleentheid te vier.  Haar ses-en-negentigjarige moeder, drie van haar ses susters asook haar en dogter en skoonseun het die geleentheid bygewoon saam met inwoners van die versorgingsoord, inwoners van die woonstelle en aftree-oorde, asook lede van die bestuursraad en Tutela.

Ons wens Hannie nog ʼn paar goeie en gesonde jare by die Tuiste vir Bejaardes toe met die hoop dat ons nog lank van haar kundigheid sal kan gebruik maak.

CHRIS ENGELBRECHT                                                                                                             
Bestuurder/Manager:  Tuiste vir Bejaardes Nigel 

Gebruikers

Soek

LiG Tydskrif

 

Lees in LiG se Desember-uitgawe

2017.12

Kerkbode

Lees in die Kerkbode van
17 November 2017

 2017.11.17