LiG: Desember 2017

Lees in die Feesuitgawe van LiG ...

Ons vier fees in LiG se Desember/Januarie-uitgawe! ‘n Spesiale uitgawe propvol stories en wenke wat jou sal verryk en inspireer.

Ons vier die vrede wat Christus bring. LiG vier 80 jaar van genade, seën en gesinwees. En ons vier Kersfees in dankbaarheid dat ons ons geloof mag uitleef. Lindie Strydom, Liesel Krause-Wiid en Rouchelle Liedemann vertel juis hoe hulle geloof ‘n elkedagse werklikheid is.

‘n Gesin van Knysna deel die lesse wat hulle geleer het ná hul huis afgebrand het. Ons Kerstafelgaste onthou die lang pad wat hulle met LiG gestap het, en ds Nelis Janse van Rensburg roep ons op om met verbeelding te leef.

Kry idees oor hoe jy Kersfees anderster kan vier – deur te gee. En leer by getroudes oor hul huweliksgeluk. Ons gee ook wenke hoe jy jou kind goeie maniere kan leer, en wat presies jou tiener nodig het.

Daar is praktiese kosmaakplanne, blokraaisels vir die vakansie en ‘n besonderse hekelprojek vir dié wat hou van handwerk.

LiG – vir jou en jou mense!

2017.12

LiG: November 2017

Lees in die November-uitgawe van LiG ...

LiG se November-uitgawe gaan jou oë laat vonkel! Nadia Beukes vertel van haar droomtoer na New York, en ons word geïnspireer deur gewone mense wat groot droom én doen.

LiG vertel watter vaardighede jou kind kan aanleer wanneer hy help in die kombuis. (Ja, dit is die gemors werd!) Ons vra ook wat sukses in God se oë regtig is, en kyk wat die Bybel oor sterre sê.

Ons praat oor die hoekoms, moets en moenies van tienerselfdood. En vertel van ‘n vrou wat 22 jaar lank aan kleptomanie gely het. Kundiges gee ook raad vir vroue wat voel dat hulle mans nooit tuis is nie.

Ons gee heerlike, gesonde kos-idees en maak lesers mooi. LiG gee jou die geleentheid om stil te raak, te ontspan en jou lewe te verryk met mooi, sinvolle inhoud.

LiG – vir jou en jou mense.

2017.11

LiG: Oktober 2017

Oktober-uitgawe van LiG ...

In die Oktober-uitgawe van LiG vier ons 500 jaar van die Reformasie en sien hoe Christus steeds sy kerk vernuwe.

Die sangeres Andriëtte vertel dat sy nie kan ophou om dankie te sê nie. En Jans Rautenbach se Almeri vertel van sy ryk nalatenskap.

Ons vind inspirasie by ‘n rolstoelrugbyspeler wat die lewe kies en ‘n tweeling wat albei borskanker moes trotseer.

LiG kuier ook by ‘n gesin wat uitgereik het na Siriese vlugtelinge.

LiG maak ouerskap maklik met ses prettige maniere om jou kind te dissiplineer en help ouers om kop te hou met eksamenstres.

LiG is vanjaar 80 jaar oud! En steeds bied ons Christelike inhoud wat gesinne en gelowiges verryk en inspireer.

2017.10

LiG: September 2017

September-uitgawe van LiG ...

In LiG se September-uitgawe vertel Simoné Nortmann van die roeping wat God vir haar gekies het. Kom vind uit hoe God jóú klein gebare gebruik om die wêreld te verander. En hoe ‘n ware visser van mense leef.

LiG kuier by ‘n predikant wat hoop bring in ‘n huis vir haweloses. Ons gee raad om die verlies van jou troeteldier te verwerk. En hoe om dit te hanteer as jy broeis is, maar jou maat nie.

Wonder jy oor kinders in jul kooi? Dan het LiG goeie antwoorde. Of het jou kind leerprobleme? Kundiges sê dit kan dalk weens swak ogies wees.

LiG – ‘n tydskrif met Christelike inhoud wat die hele gesin sal verryk en inspireer.

Die September-uitgawe is nou te koop in boekwinkels en supermarkte.

2017.09

LiG: Augustus 2017

Lees in die Augustus-uitgawe van LiG

Die bekende aktrise, Illse Roos, gesels met LiG oor hoe sy haar lewe eerlik en eenvoudig leef. In die Augustus-uitgawe gee ons ook 20 wenke om jou lewe te vereenvoudig.

Lees wat Esther Scott geleer het toe sy die Bybel met die hand oorgeskryf het en hoe een vrou musiek gebruik om kinders vlerke te gee. Ons praat ook met ‘n rokmaker wie se skeppings help om vroue-harte te genees.

Kry gespreksriglyne om met jou kind oor flieks en God te praat. En lees hoe vroue uit die Bybel iets van God se hart wys. Stephan Joubert skryf hoe ons donker geheime lig raak wanneer ons dit met God deel.

Ons bak met sitrus, en gee feestelike idees vir 'n teetafel hierdie vrouemaand.

LiG se Augustus-uitgawe is nou te koop!

2017.08

LiG: Julie 2017

Lees in die Julie-uitgawe van LiG ...

In die Julie-uitgawe van LiG vertel Therese Benade oor haar man-met-die-mooi-hart met wie sy binnekort gaan trou. Nina Smit gesels oor die donker én die lig, ná haar Johan se dood.

Lees oor interessante Bybelse simbole en kry Bybelstudiemateriaal vir jou selgroep.

Vir kinders is daar die beste besighouplanne vir die vakansie ooit. Kundiges waarsku ook dat seks op jou kind se selfoon net die druk van ʼn knoppie ver is.

Word geïnspireer deur gewone mense wat hul drome uitleef en ‘n verskil in die wêreld maak.

Die Julie-uitgawe van LiG is nou te koop.

2017.07

LiG: Junie 2017

Die Junie-uitgawe van LiG vertel  van ...

Ons vier Pinksterdag op 4 Junie, en in dié uitgawe van LiG brand ons vreugdevuur hoog, want “die Gees wat God ons gegee het ... vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7)

In die Junie-uitgawe vertel Minki hoe die pad na haar hart loop. Die opera-ster, Pretty Yende, gesels eksklusief met LiG. En die ma van 'n blinde seuntjie vertel hoe hy vir haar 'n bril van hoop geword het.

Ons gee raad vir daardie vurige kind van jou en hoe om in elke seisoen van jul huwelik die liefdesvlam hoog te laat brand. Lees ook van al die goeie redes waarom kinders buite moet speel.

Het jy al ooit gewonder watter woorde eer God? En waarom dit belangrik is om deel van 'n gemeenskap van gelowiges te wees? Lees hieroor in LiG.

Nuut in LiG! Milanie Vosloo skryf oor stilwees en Lizette Murray oor gesinsake.

2017.06

Lig: Mei 2017

In LiG se Mei-uitgawe raak ons stil ...

Marié Britz vertel van haar 30 dae van stilte, en wat sy van God geleer het.

LiG kuier by ‘n dowe prediker wat die evangelie in gebaretaal verkondig. En ons leer hoedat stilte ook gebed is.

Die bekroonde sangeres, Leah, vertel in hierdie uitgawe hoe sy haar geloof lééf.

Lees ook hoe jy jou kind kan leer ontspan, hoe jy stilstuipe in jou huwelik kan stuit en hoe om die seën wat jy ontvang het, aan te gee.

2017.05

LiG: April 2017

In LiG se Paasfees-uitgawe vertel geliefde sangeres, Juanita du Plessis hoe sy steeds Boontoe kyk. Ons gee idees vir saamdoendinge dié Paasfees en dink na oor die ware wingerdstok – Jesus Christus.

Ons kuier by akteur Ben Kruger, meesterkok en ouderling. En hoor die verhaal van God wat werklose vroue verander in kreatiewe koninginne.

Leer ook hoe om kos-etikette reg te lees, kry raad oor die moets en moenies langs jou kind se sportveld en die tien maniere waarop jy jou huwelik kan bou.

2017.04

Gebruikers

Soek

LiG Tydskrif

 

Lees in LiG se Desember-uitgawe

2017.12

Kerkbode

Lees in die Kerkbode van
1 Desember 2017

 2017.12.01