Die pad tot hier

Om die geskiedenis[1] van die “Sinode Hoëveld” van die NG Kerk[2] te vertel, moet ’n mens begin by die feit dat die Voortrekkers aan die gebied tussen die Vaalrivier en die Limpoporivier die naam Transvaal toegeken het.

Hoewel dikwels in die algemene omgang na die boererepubliek wat in die gebied geleë was, as die Transvaalse Republiek verwys word, was dit nooit die amptelike naam van die Republiek nie. Die republiek was bekend as “Het Zuid Afrikaansche Republiek”. Dit sou eers later gevestig raak toe die Britse kolonie in die gebied bekend gestaan het as “Transvaal Colony”. Die naam Transvaal is tydens die vorming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 aan die provinsie toegeken.

Die vestiging van die NG Kerk in die gebied kan teruggevoer word na die stigting van die gemeente Potchefstroom in 1842. Die stigting van die eerste gemeente wat tans in die streek van die NG Kerk Suid-Transvaal val, het voor 1866 plaasgevind[3] toe die gemeente Suikerbosrand (tans Heidelberg) gestig is[4].

In 1954 het die Sinode van die NH of G Kerk van Transvaal[5] besluit om in twee streke – ’n noordelike en ’n suidelike streek – te verdeel. Hoewel dit nie twee sinodes beteken het, soos ons dit nou ken nie, het elke streek sy eie moderatuur saamgestel wat oor sekere sake besluit het. In 1957 het die afsonderlike streke van die Sinode van die NG Kerk van Transvaal[6] tydens die sinode afsonderlik vergader en is daar besluit dat die Sinode amptelik gaan verdeel[7], maar dat sekere sake nog steeds gesamentlik hanteer sal word. Die Algemene Sinode van die NG Kerk van Transvaal het die laaste keer in 1961 plaasgevind. Die NG Kerk van Transvaal was in 1962 een van die vyf sinodes wat deelgeneem het aan die vorming van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die Sinode van Suid-Transvaal het met ongereelde tussenposes vergader vanaf 1957 maar vanaf 1975 het sinodes vierjaarliks plaasgevind. Na die verdeling van die Sinode van NG Kerk van Transvaal in 1957 het die Sinode van Suid-Transvaal saamgewerk met die Sinode van Noord Transvaal in die Kerkkantoor, teologiese opleiding en op ander terreine waar gedeelde belange en verantwoordelikhede was[8]. Na die ontstaan van die Sinode van Wes Transvaal in 1972[9] en van Oos Transvaal in 1979[10] het die Sinodes saamgewerk in die gesamentlike Kerkkantoor tot met die sg. ontbondeling daarvan in 1999.

Op verskeie diensterreine van kerk het die NH of G Kerk van Transvaal werk verrig. Van der Watt (Van der Watt, 1987) noem ’n verskeidenheid terreine waarop die sinode gewerk het: ampsbediening en evangelisasie, sending, jeugbearbeiding, leer en aktuele sake, ekumene en diens van barmhartigheid. Dit is ook so in die NG Kerk van Suid-Transvaal voortgesit nadat dit ’n afsonderlike sinode gevorm het.

Op die terrein van Diens van Barmhartigheid het die NH of G Kerk van Transvaal heelwat verrig. Na die Tweede Vryheidsoorlog[11] is die Abraham Kriel­ Kinderhuis opgerig en het die kerk ook verantwoordelikheid vir die Maria Kloppers Kinderhawe aanvaar. Op die vlak van familie- en gesinsorg is daar heelwat gedoen en die Kerk het ook deur middel van die Christelike Maatskaplike Rade en hulle  voorlopers ’n besondere taak verrig tydens die verstedeliking van die Afrikaner. Die eerste organiserende sekretaris vir dié terrein is in 1919 aangestel. Die laaste Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Diens van Barmhartigheid het in 1998 geëmeriteer, maar daar is steeds ’n amptenaar wat die Diens van Barmhartigheid bestuur. Vir jare lank het die NG Kerk van Suid-Transvaal ook PSD’s gehad wat ’n pastorale spreekkamer gehad het en verantwoordelik was vir hospitaalbediening. Die laaste PSD’s vir hospitaalbediening het albei in 1997 geëmeriteer.

Op die terrein van ampsbediening en evangelisasie is die vroegste bekende werk van die NH of G Kerk van Transvaal gereëlde predikantekonferensies wat vanaf 1934 gehou is om predikante toe te rus. Om die nood van onbekeerde mense aan te spreek is predikante vanaf 1934 met sinodale opdrag beroep om evangelisasie te doen. Benewens prediking is spreek­kamerbe­dien­inge, literatuurverspreiding en ander wyses benut om die lidmate te evangeliseer en ander mense met die evangelie te bereik. Vanaf 1950 was ’n PSD benoem om die terrein te behartig. Die pos is na die verdeling van die NG Kerk van Transvaal voortgesit en die laaste PSD het in 1997 geëmeriteer. Nywerheidsbediening[12] het ook mettertyd ’n saak geword wat die aandag van die kerk geverg het. Vir die doel het die NG Kerk van Suid-Transvaal ook ’n kommissie gehad wat die bediening gedoen het en saam met die NG Kerk van Wes-Transvaal ’n PSD vir die taak beroep. Die laaste PSD vir Nywerheidsbediening het in 2001 geëmeriteer.

Die kwessie van sending was van vroeg af deur die leraars en gemeentes beskou as ’n belangrike taak. Hoewel sendelinge vanaf 1862 deur die NG Kerk uit die Kaap na Transvaal gestuur is, het die werk in samewerking met die Sinode van 1868[13] geskied. Sendingwerk was ’n saak wat baie aandag geniet het op sowel die plaaslike as sinodale vlak. Reeds in 1934 is die eerste sendingsekretaris in die NH of G Kerk aangestel en die stelsel is ononderbroke gehou tot met die emeritaat van die laaste PSD in 1996.

Jeugbediening was van die oorsprong van die NG Kerk in die gebied noord van die Vaalrivier ’n kwessie, nie net as gevolg van die probleem dat kinders nie skoolopvoeding gekry het nie, maar ook in belang van hulle geestelike vorming. Hoewel dit so is, het die Sinode van die NH of G Kerk van Transvaal eers in 1948 sy eerste sekretaris vir Jeugbediening aangewys. Hy is opgevolg deur verskeie ander en die laaste PSD vir Jeugbediening het in 1997 geëmeriteer.

Dit is nodig om te noem dat elkeen van die PSD’s en sekretarisse lid was van sinodale kommissies wat die werk van die betrokke diensterreine bestuur het. Hoewel die werkwyse in die NG Kerk nie aanvanklik so was nie, was dit later deur middel van kommissies wat ringsgewys saamgestel is. 

In 1999 is ’n buitengewone Sinode van die NG Kerk van Suid-Transvaal, na aanleiding van besluite geneem tydens die sinode van 1997, gehou. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word, maar dit was hoofsaaklik daaraan te wyte dat die PSD’s afgeskaf is. Tydens dié Sinode is nie net die manier waarop die Sinode vergader, verander nie, maar ook die wyse waarop die kommissies gefunksioneer het. ’n Sinodale Dienskommissie (SDK) is aangewys waarvan die moderamen deel was en die voorsitters van die verskillende (bestaande) kommissies asook portefeuljeleiers vir elk van die diensrigtings – “Na voor”, “na binne”, “na buite” en “na bo”.

Vir die volgende tydperk van meer as 10 jaar was die manier waarop die sinodale werksaamhede gedoen word die kern van die besinning in Sinodes. Tydens die Sinode van 2001 het die SDK ’n dokument voorgelê waarin ’n nuwe werkswyse uiteengesit is[14]. Dit is met geringe wysigings aanvaar. Voortaan sou die SDK bestaan uit die moderatuur, vier portefeuljeleiers en drie kerkraadslede. Die Hoof-uitvoerende amptenaar en die Koördineerder van die Sinodale Kantoor het ook sitting op die SDK gehad. Die portefeuljes sou voortaan Navorsing en Ontwikkeling, Netwerke, Administrasie en Bedieningsontwikkeling wees. Dat dié reëlings nie permanent was sou wees nie, blyk in 2007 as die Sinode besluit om agt leiers aan te wys (waarvan minstens 3 kerkraadslede moet wees) sonder om ’n spesifieke portefeulje aan elkeen toe te wys. Dit het mettertyd duidelik geword dat die portefeulje Netwerke ’n te groot terrein probeer dek en dat Navorsing en Ontwikkeling eintlik op elke diensterrein gedoen word. Die SDK sou die portefeuljes aan die leiers toewys volgens die bedieningsfokusse wat die Sinode gekies het. Dié stelsel sou bestaan tot in 2012 wanneer die portefeuljes weer vasgestel word as: Predikantebegeleiding, Ekumene, “Ontwikkeling van 'n missionêre kerk”, “Versorging en Genesing” en “Sinodale Hulpbronbestuur”.

Dit is duidelik dat die prosesse wat in die NG Kerk van Suid-Transvaal aan die gang was oor die afgelope meer as 15 jaar, die uitdagings van kerkwees probeer aanspreek het.  Op die mees basiese vlak is ’n Sinodale Kantoor ingerig wat doelmatig moes wees. Na die ontbondeling van die Gesamentlike Kerkkantoor in Pretoria moes ’n verskeidenheid van die funksies wat daar hanteer was, plaaslik hanteer word. Aanvanklik is dit in die kantoor in De Kortestraat, Braamfontein hanteer en is bepaalde take aan die finansiële afdeling van die NG Kerk van Wes Transvaal uitgekontrakteer. Na die verkoop van die kantoorgebou in Braamfontein is die Sinodale Kantoor verskuif na die kantore wat ingerig is in die geboue van die NG Gemeente Kemptonpark-Suid[15].  Hoewel daar aanvanklik ooreengekom is dat die Hoof Uitvoerende Amptenaar van die SKDB/NGBD ook die take van die Hoof Uitvoerende Amptenaar van die Sinodale Kantoor sou waarneem, is daar later op sy versoek besluit om hom van die verpligtinge vry te stel en het die SDK ’n eie Hoof Uitvoerende Amptenaar van die Sinodale Kantoor aangestel. Ds. DAR (Dawid) Venter het die pos beklee vanaf 2003 tot 31 Oktober 2010. In 2010 het herstrukturering in die Sinodale Kantoor plaasgevind en dr. AS (Bertus) Koorts is aangestel as die Algemene Kantoorbestuurder van die Sinodale Kantoor.

Dit sou met reg gesê kan word dat die eerste paar jaar na 1999 ’n tydperk van sowel instandhouding as die soeke na nuwe maniere van doen vir die SDK en die NG Kerk van Suid-Transvaal was. Kommissies wat bestaan het voor 1999 was gewoond aan ’n praktyk van PSD’s wat heelwat van die opdragte van die Sinodes uitgevoer het. Voortaan het dit die taak van die portefeuljeleiers, maar veral van die SDK, geword om die opdragte van die Sinode uit te voer. Binne die Sinodale Kantoor was daar nie prosesse en prosedures geformuleer en in werking om bepaalde take te verrig nie. Beleidsdokumente wat in ’n vorige bedeling van ’n gesamentlike kerkkantoor in Pretoria, bestaan het en in werking was, het nie in die (nuwe) Sinodale Kantoor in Braamfontein bestaan nie. Die feit, soos hierbo aangedui, dat die SDK voortdurend oor sy samestelling en funksie en die werk van die NG Kerk van Suid-Transvaal nagedink het, het meegewerk dat beleidsdokumente stadig op die tafel gekom het vir die funksionering van en die daarstel van die korrekte prosesse en prosedures in die Sinodale Kantoor. Die herstrukturering van die Sinodale Kantoor en die doelgerigte poging van die sinode, die SDK en die Algemene Kantoorbestuurder het meegewerk dat daar vandag goeie beleidsdokumente daargestel is. Daar is prosesse en prosedures in plek sodat die werk van die NG Kerk van Suid-Transvaal doeltreffend  en effektief uitgevoer kan word.

Bibliografie

Agenda van die Sinode van die NG Kerk van Suid-Transvaal. (2001).

Scholtz, G. D. (1956a). Die Geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1842-1885. Pretoria: N.G Kerk Uitgewers.

Scholtz, G. D. (1956b). Die Geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1885-1910. Pretoria: N.G. Kerk Uitgewers.

Van der Watt, P. B. (1976). Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1824. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P. B. (1977). Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P. B. (1980). Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P. B. (1987). Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel.


[1] G.D. Scholtz (Scholtz, 1956a, 1956b) het in twee dele ’n geskiedenis van die vroeë tydperk (1842-1910) van die NG Kerk in Transvaal geskryf. P.B. van der Watt se beskrywing van die geskiedenis van die NG Kerk beslaan vier boeke (Van der Watt, 1976, 1977, 1980, 1987). Omdat Van der Watt hom besig hou met die geskiedenis die NG Kerk, fokus hy nie oral gedetailleerd op die geskiedenis van die NG Kerk van Transvaal nie.

[2] Die naamkwessie is ’n saak wat in ’n ander dokument ter sprake moet kom.

[3] Van der Watt dui aan dat die gemeente ’n verteenwoordiger gehad het by ’n Algemene Kerkvergadering in 1866 (1977, pp. 133-134).

[4] Sowel Scholtz as van der Watt kan geraadpleeg word oor die geskiedenis van die NG Kerk in Transvaal.

[5] Dit was die naam van die kerk ná die mislukte poging om die NG Kerk en die Ned. Herv. Kerk in 1885 te verenig. (Van der Watt, 1980, pp. 85-87)

[6] Tydens die Algemene Sinode van die NH of Kerk van Transvaal in 1957 is die naam verander.

[7]    Van der Watt (1987, p. 20)

[8]    In ’n paar gevalle is PSD’s ook gesamentlik beroep en in diens gehou.

[9]    Die Sinode van Wes Transvaal is gevorm uit die verdeling van die Sinode van Suid-Transvaal in twee dele. Dit was alleen moontlik op grond van ‘n besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

[10]   Uit die Sinode van Noord Transvaal.

[11]   Wat is die regte naam van die oorlog?

[12]   Ook genoem Arbeidsbediening

[13]   Scholtz (1956a, pp. 229-230)

[14] Agenda van die Sinode van die NG Kerk van Suid -Transvaal 2001, pp. 17-22)

[15] Die geboue is deur die NG Kerk van Suid-Transvaal aangekoop vir die doel.

Nog 'n ietsie interessant...

Potchefstroom, die eerste gemeente in Transvaal, is op 26 en 27 Maart 1842 deur eerwaarde Daniel Lindley gestig.  Die lidmate was Voortrekkers wat uit die Kaapkolonie getrek het.  Dus was Potchefstroom ‘n gemeente van die Kaapse Kerk.

In 1853 besluit die kerkraad om van die Kaapse Kerk af te skei.  Hiermee het diaken Wessel Badenhorst van Hartbeesfontein en ‘n ruim aantal lidmate ernstige beswaar en besluit om deel van die Kaapse kerk te bly.  Vir die volgende aantal jare word hierdie “afgeskeie” gemeente deur besoekende leraars bedien, veral ds Frans Lion Cachet van Utrecht.

Tydens die Kaapse Sinode van Oktober 1862 is die stryd tussen die behoudendes en liberales op sy felste.  Oudl HH Loedolff van Swartland, wat sterk liberaal was, maak beswaar teen die sittingreg van die afgevaardigdes van buite die Kaapkolonie.  Op die ou end gaan hy en oudl HH Smuts, ook van Swartland, daaroor hof toe.  Hulle wen die saak en gevolglik is die gemeentes in Natal, die Vrystaat en Transvaal nie meer deel van die Kaapse Kerk nie.

Die eerste sitting van die Transvaalse Kerk word in Desember 1866 op Utrecht gehou, met ds Lion Cachet as moderator.  Die skriba is ds DPM Huet van Pietermaritzburg wat die sinode as adviseur bywoon.  Die derde sinode kies in 1868 ds JP Jooste, die eerste leraar van Potchefstroom, as moderator en ds Lion Cachet as skriba.

In die jare vyftig van die 20ste eeu word daar gevoel dat die Transvaalse Kerk te groot geword het vir net een Sinode.  Transvaal word toe in ‘n Suid- en Noordstreek verdeel.  Sommige sake is  aan die streek Sinode toegewys, maar die Algemene Sinode van Transvaal het nog tot 1961 vergader.

Die eerste sinode van Suid-Transvaal, waarvan Wes-Transvaal deel was, vergader in 1957.  Die eerste moderatuur is:

Moderator  Ds PJ Swart van Greylingstad (vroeër van Ottosdal) 
Assessor  Ds CF Beyers Naude van Potchefstroom
Aktuarius  Ds MS Joubert van Cachet (Primrose) 
Skriba  Dr FHF Kriel van Standerton

In 1962 herenig die Ned Geref Kerk na die verdeling van 100 jaar wat die Loedolff-saak meegebring het.  Suid-Transvaal verdeel in 1972 in Wes-Transvaal en Suid-Transvaal.  Die eerste sitting van die Sinode van Wes-Transvaal begin op 25 April 1972 en die moderatuur is:

Moderator  Dr SJ Eloff 
Assessor  Ds MJP Olivier 
Aktuarius  Ds IF Retief 
Skriba  Ds P Rossouw 

Na 1972 was die moderature soos volg:

1975:

Moderator  Dr P Rossouw 
Assessor  Dr SJE Eloff 
Aktuarius  Ds IF Retief 
Skriba  Dr DD Rosslee 

1979:

Moderator  Dr DD Rosslee 
Assessor  Dr P Rossouw 
Aktuarius  Ds IF Retief 
Skriba  Ds JI Roux 

1983:

Moderator  Ds JI Roux 
Assessor  Ds IF Retief 
Aktuarius  Ds CP Willemse 
Skriba  Ds Jvw du Plessis 

1987:

Moderator  Ds JvW du Plessis 
Assessor  Ds JI Roux 
Aktuarius  Ds CP Willemse 
Skriba  Dr HS Grobler 

1991:

Moderator Dr HS Grobler 
Assessor  Ds JvW du Plessis 
Aktuarius  Dr DA Scholtz 
Skriba  Ds JJ Wessels 

Na die staatkundige herindeling van provinsies in 1994 bestaan die sinode nou uit die grootste deel van die oostelike helfte van Noordwes, en dele van die weste en suide van Gauteng (die Wesrand en die Vaaldriehoek)

1995:

Moderator  Ds JvW du Plessis 
Assessor  Ds NMS Bezuidenhout 
Aktuarius  Dr HS Grobler 
Skriba  Ds JJ Wessels / Ds JB Haasbroek 

1999:

Moderator  Ds NMS Bezuidenhout 
Assessor  Ds JvW du Plessis 
Aktuarius  Ds JJ Wessels 
Skriba  Ds JB Haasbroek / Ds NWJ van Rensburg 

2003:

Moderator  Dr JHG Gous 
Assessor  Ds JJ Wessels 
Aktuarius  Ds JJ Louw 
Skriba  Ds NWJ van Rensburg 

2007:

Voorsitter Ds Jasper Louw 
Ondervoorsitter  Ds Jacie van Rensburg 
Aktuarius  Ds Henk Fourie 
PSB / Skriba  Ds Nico van Rensburg 
Addisionele lid Ds Norma Rossouw

Gebruikers

Soek

LiG Tydskrif

 

Lees in LiG se Desember-uitgawe

2017.12

Kerkbode

Lees in die Kerkbode van
17 November 2017

 2017.11.17